SABC News | Sport | TV | Radio | Education | TV Licenses | Contact Us
 

Decisions

Type AMNESTY DECISIONS

Starting Date 15 May 1997

Names VERNON VOSLOO

Case Number AC/97/0026

Matter AM 1003/96

Decision REFUSED

BEVINDING

Die applikant, Vernon Vosloo, is gebore op 8 Junie 1968. Hy is op 6 September 1993 gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf nadat hy skuldig bevind is aan die moord op 'n onbekende swart man op 10 Mei 1992 naby Suid-Heuwels in Johannesburg.

Die applikant was nie 'n lid van enige politieke beweging nie, maar voer aan dat hy 'n ondersteuner van die Afrikaner Weerstandsbeweging was. Hy het egter nie hul vergaderings bygewoon nie en sy kennis van hierdie en die politiek in die algemeen, spruit uit wat hy op televisie gesien en gehoor het.

Hy het getuig dat hy gedurende 1992 onsekerheid beleef het oor die politieke toestand in die Republiek van Suid-Afrika en gevrees het dat hy in die toekoms geen seggenskap in die veranderende Suid-Afrika sal hê nie. Volgens sy siening het niemand iets aan die situasie gedoen nie en hy het 'n groeiende gevoel gekry dat hy iets moet doen. Hy het redeneer dat dit die swartmense is wat die regering gaan oorneem en het hulle as die opposisie gesien teen wie hy hom moet verset.

Ongeveer 22H00 die aand van die 10de Mei 1992 het hy en vriende naby sy motor in Suid-Heuwels gestaan en sterk drank genuttig. Hy was redelik sterk onder die invloed van drank en het 'n swart man waargeneem wat aan die oorkant van die straat verbygestap het. Hy het 'n mes uit sy motor se bagasiebak gehaal en hom steekwonde in die bors en liggaam toegedien. Die nadoodse ondersoek toon dat 14 steekwonde toegedien was.

Die applikant het verder getuig dat hy die oorledene glad nie geken het nie en dat daar geen provokasie was nie, maar dat hy gevoel het dat hy 'n bydrae gelewer het om weerstand te bied teen die oorname van die regering, deur die swartes. Hy het bygevoeg dat hy nie op daardie stadium die daad gepleeg het as dit nie was dat hy die hoeveelheid drank gedrink het nie.

In die lig van die voorafgaande getuienis is sy aansoek beoordeel. Die aansoek het aan die formele voorskrifte van die Wet voldoen en die applikant het die relevante feite ten volle openbaar. Die vraag of die daad gepleeg is deur 'n persoon wat voldoen aan die vereistes van Artikel 20(2) van die Wet, verg egter nadere beskouing.

Artikel 20(2)(a) vereis dat die dader 'n lid of ondersteuner van 'n openbare bekende politieke organisasie moet wees wat namens die organisasie of ter ondersteuning van die organisasie optree in die bona fide geloof dat hy die politieke stryd van die organisasie teen die Staat of 'n ander openbaar bekende politieke organisasie bevorder.

Namens die applikant is aangevoer dat hy 'n ondersteuner van die AWB was en hierdie organisasie se weerstand wou bevorder. Hy was egter nie 'n lid van die AWB nie, en het ook nooit hulle vergaderings bygewoon nie.

Die vraag of die daad geassosieer was met 'n politieke oogmerk, moet beantwoord word aan die hand van die kriteria in Artikel 20(3) van die Wet 34 van 1995 gestel.

Namens die applikant is aangevoer dat hy self gehandel het met 'n politieke oogmerk. Die oogmerk was om 'n boodskap tuis te bring dat blankes nie 'n politieke oorname deur swartes sal aanvaar nie. Tog pleeg hy die daad in die geheim en aanvaar nie verantwoordelikheid daarvoor voordat hy in die hof verskyn nie. Die boodskap word dus nooit aan die teenstanders oorgedra nie. Die indruk word gelaat dat dit 'n blote kriminele daad was. Die daad is verder gerig teen 'n, op die oog af, politiek neutrale persoon. Hyself het nie geweet of die persoon 'n politieke opponent was nie. Hy getuig ook self dat hy nie in opdrag van enige politieke organisasie of met hul goedkeuring opgetree het nie, maar dat sy inname van drank deurslaggewend was en hom die nodige oed op daardie stadium gegee het.

In die lig van die voorgaande word bevind dat die applikant nie voldoen aan die vereistes deur die Wet gestel vir amnestie nie, en word die

AANSOEK VAN DIE HAND GEWYS: .

GETEKEN HIERDIE 15de DAG VAN APRIL 1997.

WILSON, R

ADV C. DE JAGER SC

ME S. KHAMPEPE

AC/97/0026

TRUTH AND RECONCILIATION COMMISSION

AMNESTY COMMITTEE

APPLICATION IN TERMS OF SECTION 18 OF THE PROMOTION OF NATIONAL UNITY AND RECONCILIATION ACT, NO. 34 OF 1995.

VERNON VOSLOO APPLICANT

(AM 1003/96)

DECISION

Amnesty is hereby

BEING REFUSED: to the above person in respect of the following offence in the district of Johannesburg

Murder committed on 10 May 1992.

SIGNED ON THIS THE DAY OF 1997.

(Signed)

WILSON, J

ADV C. DE JAGER SC

MS S. KHAMPEPE

 
SABC Logo
Broadcasting for Total Citizen Empowerment
DMMA Logo
SABC © 2024
>