BEVINDING
Die applikant, Hendrik Jacobus Steyn, doen aansoek vir amnestie in terme van Artikel 18 van Wet 34 van 1995, ten aansien van die volgende misdade:
(a) Die moord op Michael Mthethwa (hierna verwys as die eerste oorledene) op 14 Augustus 1992 in die Tshukulu Reservaat, kwaZulu Natal;
(b) Die moord op Simon Msweni (die tweede oorledene) op dieselfde tyd en plek hierby genoem.
Die applikant het in sy getuienis aangevoer dat hy 'n Speurder Adjudant Offisier in die Suid-Afrikaanse Polisie was en in die Moord- en Roofafdeling te Empangeni gedien het. Deel van sy pligte was die bekamping van die bedrywighede van die bevrydingsbewegings soos hoofsaaklik verteenwoordig deur die ANC. Vir hierdie doel het hy dan ook kursusse in teeninsurgensie en onlustebeheer bygewoon.
Gesien die feit dat die applikant aan moord op die eerste oorledene skuldig bevind is en aan poging tot moord op die tweede oorledene, is dit nodig om die gevalle afsonderlik te behandel. Dit is ook so dat die bevinding van poging tot moord op die tweede oorledene gemaak is omdat die Staat nie kon bewys dat die tweede oorledene nog lewend was toe die applikant skote op hom gevuur het nie. Vir doeleindes van vonnis is die twee misdade ook as een behandel en is 'n vonnis van agtien jaar gevangenisstraf opgelê.
Die relevante deel van die uitspraak lees as volg:
"U word op die twee klagtes saam gevonnis tot agtien (18) jaar gevangenisstraf."
So 'n vonnis mag verdere kommentaar verg indien amnestie net ten aansien van een van die dade gegee word. Die vonnis is deur die Volbank van die Natal Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika gehandhaaf.
Daar word vervolgens gehandel met die getuienis van die applikant in soverre dit betrekking het op die tweede oorledene, mnr Simon Msweni.
Die applikant voer aan dat hierdie oorledene die leier was van 'n groep aktiviste wat verbind was met 21 moorde, 35 pogings tot moord, brandstigting en gewapende roof. Die vraag ontstaan egter of hierdie misdade nie bloot kriminele dade was wat niks met 'n politieke motief te doen gehad het nie. Die applikant voer aan dat al hierdie misdade gerig was teen lede van die Inkatha Vryheidsparty, lede van die veiligheidsmagte en blankes. Hy sê dat hy deur wetgewing belet was om lid van 'n politieke party te wees dig dat hy 'n ondersteuner van Inkatha was en later, na ontslag uit die Polisie, 'n lid van die Inkatha Vryheidsparty geword het. Uit die gegewens wat aan die komitee voorgelê is, is dit nie duidelik welke van die dade met 'n politieke motief van die groep verband gehou het nie en of die slagoffers Inkatha ondersteuners was nie. Talle van die gevalle waarvan die groep onder aanvoering van wyle Simon Msweni (die tweede oorledene) verdink was, dui egter wel op prima facie politiek verwante sake:
(Daar word verwys na die lys soos aangeheg by die applikant se aansoek en gepagineer as bladsye 20 - 25 van sy aansoek om amnestie).
Busse is met klippe bestook en aan die brand gesteek, huise is afgebrand, kerkgangers is in 'n kerk aangeval, petrolbomme is gebruik, polisie is geskiet, handgranate is gebruik en halssnoermoorde is toegepas - hierdie en ander soortgelyke sake is teen Msweni en sy bende ondersoek.
Hierbenewens was daar dan die doodslag van drie polisiemanne tydens die skietery, verwonding en gevangeneming van die twee oorledenes op 14 Augustus 1992.
Soos lyk uit die voormelde gevalle lyk dit of minstens 22 gevalle objektief gesproke prima facie 'n politieke konnotasie het.
Die ander gevalle mag of mag nie in daardie kategorie val nie. Die applikant het getuig dat hy die mening toegedaan was dat hulle almal polities van aard was omdat dit gepleeg was teen Inkatha ondersteuners, die sekuriteitsmagte (wat hulle aan die kant van Inkatha en die regering van die dag geskaar het) en ander blankes. Hierdie getuienis is nie weerlê nie en ook nie die getuienis dat die tweede oorledene 'n welbekende ANC figuur, die leier was tydens die gekonsentreerde aanvalle in daardie omgewing nie. Die optrede van die tweede oorledene (en ook die eerste oorledene) deur in konfrontasie met die polisie te gaan en selfs doodslag te pleeg, was op daardie stadium ook in ooreenstemming met die ANC se verklaarde beleid soos deur die party aan die Kommissie in getuienis voorgedra naamlik dat die weermag en polisie as verteenwoordigers en verdedigers van die destydse bewind met 'n rasgebaseerde geldende politieke filosofie wettige teikens was vir gewapende aanslae. Die applikant getuig dan ook dat in polisie voorligting "die prinsiep of hy of jy gedurig onder ons aandag gebring was" en dat die bevrydingsorganisasies as vyande in 'n totale aanslag voorgehou was. As polisie gesien is as wettige teikens en dus as voëlvry verklaardes gedood kon word, is die omgekeerde sekerlik ook waar in 'n oorlog situasie.
Die getuienis is verder dat daar gedurende die nag van die 13de Augustus 1992 'n geveg plaasgevind het tussen die sekuriteitsmagte en onder andere die oorledenes. In hierdie geveg het drie polisiemanne die lewe gelaat voordat die oorledenes in 'n erg gewonde toestand oorrompel is en op 'n polisie bakkie gelaai is met polisiemanne aan die stuur om na die hospitaal vervoer te word. Die twee oorledenes het agter op die bakkie gelê en was bewaak deur twee lede van die weermag. Die applikant en ander lede van die polisie was, nadat hulle gehoor het dat die polisie in die skermutseling beseer is, in 'n motor op pad na die gevegstoneel toe hulle die polisiebakkie teëkom en stop om te verneem presies waar die gevegsterrein is. Een van die weermaglede het bevestig dat hulle van die terrein afkomstig is en terwyl hy na die oorledenes wat op die bakkie gelê het, wys, minagtend gesê dat dit die persone is wat die polisiemanne gedood het. Die applikant getuig dat hy dadelik Simon Msweni herken het as leier van die groep wat terreurdade in die gebied gepleeg het. Die ander persoon is deur die Weermaglid aangedui as Michael Mthethwa, (die tweede oorledene).
Die applikant getuig dat hy dadelik besef het dat indien hulle na die hospitaal geneem word, dit nie die einde van die terreurstryd sou wees nie. Hulle sou ontsnap soos Simon Msweni voorheen gedoen het, of hulle kan selfs deur hulle makkers bevry word.
Hulle kon selfs deur die regering vrygelaat word deur indemniteit aan hulle te verleen en dan sou hy sy terreurdade voortsit. Dit is ook van belang om in gedagte te hou dat die toepassing van die wet en orde deur die howe grootliks in duie gestort het omdat getuies vanweë viktimisasie nie by die howe opgedaag het of geweier het om te getuig. Die rewolusionêre oogmerk om die land onregeerbaar te maak, het in hierdie spesifieke landsdeel reeds grootliks geslaag.
Hy het sy suspisie gegrond op die tweede oorledene se vorige optrede, toe hy die polisieman wat oor hom waggehou het, oorrompel het, sy wapen geneem het ontvlug het en sy dade voortgesit het. Hy het geweet dat die oorledene tot die bitter einde sou veg. 'n Hele taakmag was maande lank teen hom ingespan sonder sukses en hy was so aggressief dat hy selfs 'n polisie helikopter wat brandstof ingeneem het, bestorm het en 'n handgranaat daarna geslinger het en skote geskiet het terwyl hy terug hardloop. Hy was onverskrokke en het nie slegs gevlug en weggekruip nie. Die weermagmanne het hom ook meegedeel dat beide die oorledenes in besit was van vuurwapens toe hulle oorrompel is. Hy het die eerste oorledene met die groep assosieer omdat hy betrokke was by die skietery op die polisie, in besit was van 'n vuurwapen en nie net 'n onskuldige buitestander was nie. Indien hy 'n onskuldige buitestander was sou hy hom aan die polisie oorgegee het en nie betrokke gewees het in die geveg nie. Hierbenewens is daar die verdere oorweging dat Mthethwa in dieselfde eenheid onder aanvoering van msweni was tydens die konfrontasie met die veiligheidsmagte, toe die polisiemanne gedood is. Gesien die aard van die situasie, kon dit nie verwag word dat die applikant hom anders moes sien as dat hy in samewerking met Msweni opgetree het nie. Daar was ongetwyfeld ook 'n begeerte by die applikant om die dood van sy kollegas te wreek, maar gesien die politieke aard van die dade en oortredings wat teen Msweni ondersoek is, is daar onteenseglik ook 'n politieke motivering aan die kant van die applikant teenwoordig. Hierdie twee oorwegings het skynbaar gelyke gewig by die applikant gedra en spruit albei uit die destydse geldende politieke milieu. Hy getuig dat hy toe besef het dat hierdie persone vir eens en altyd uitgewis moes word. Hy het daarop die polisiemanne beveel om in 'n bospaadjie af te draai en na hulle stilgehou het, is die twee oorledenes afgelaai. Dit was volgens die getuienis in die hof nie duidelik of die tweede oorledene nog geleef het nie. Die applikant het die polisiemanne beveel om aan te ry en die bakkie vorentoe om te draai en hy het die oorledenes elkeen twee skote toegedien terwyl die weermagmanne 'n entjie daarvandaan gestaan het.
Die lyke is 'n rukkie later weer op die polisiebakkie gelaai en die applikant en die ander teenwoordiges het ooreengekom dat gesê sal word dat die oorledenes aan hul wonde in die geveg opgedoen, beswyk het.
By die polisiestasie op kwaMbonambi het die applikant aan kolonel Nel rapporteer dat hy die oorledenes doodgeskiet het. Kolonel Nel het sy goedkeuring te kenne gegee deur hom geluk te wens en besonderhede oor die skietery gevra.
Die bakkie het daarna na die lykshuis in Empangeni vertrek. Later het die applikant die weermagmanne 'n saamrygeleentheid aangebied na Empangeni en op pad daarheen is weereens bevestig dat indien daar vrae is, volgehou sou word met die storie dat die oorledenes aan wonde opgedoen tydens die geveg, oorlede is.
Nadat die dood van die oorledenes deur senior polisie deeglik ondersoek is en die weermaglede konfronteer is, het hulle met die waarheid voor die dag gekom, en die applikant aangekla, skuldig bevind en gevonnis.
By die oplegging van vonnis, spreek die regter die mening uit dat selfs indien net enkele van die bewerings teen die tweede oorledene waar sou wees, dit duidelik was dat sy groep 'n terreurveldtog gevoer het en dat die misdade moontlik polities gemotiveerd beskou kon word. Die mening word verder uitgespreek dat die applikant in die lig van destydse gebeure kon gevrees het dat enige straf wat die howe mag oplê, nie uitgevoer mag word nie en dat dit 'n rol kon gespeel het in die applikant se optrede. Die destydse gebeure waarna die regter verwys, was klaarblyklik die vrylating van gevangenis wat polities gemotiveerde dade gepleeg het.
Ten slotte kan bygevoeg word dat dit later tydens die verhoor van die applikant geblyk het dat die huis waar die skietery plaasgevind het, die eerste oorledene se huis was, dat hy 'n ingeskrewe lid van die ANC was, dat 'n AK47 versteek was in die plafon van die huis, dat daar petrolbomme in die garage aanliggend tot die huis was en dat 'n half voltooide struktuur bestaande uit 'n kelder waartoe toegang deur 'n valdeur verkry sou word, daar aangetref is. Die kelder sou etlike persone kon huisves en was voorsien van 'n lugpyp om vars lus in te laat. Die applikant se subjektiewe geloof ten tyde van die doodslag, word objektief bevestig deur hierdie feite.
Die applikant sluit sy getuienis af deur te sê dat hy spyt is dat hy ooit die polisie as loopbaan gekies het en dat hy so betrokke by die politieke stryd geraak het. Hy is oortuig daarvan dat indien hy 'n ander loopbaan gevolg het, hy nie hierdie dade sou gepleeg het nie.
Teen hierdie agtergrond moet dan beoordeel word of die applikant 'n saak uitgemaak het vir verlening van amnestie.
Die applikant het in sy getuienis voor die Kommissie sy betrokkenheid by die misdade volledig openbaar en sy aansoek voldoen aan die formele vereistes deur die wet en regulasies daargestel.
Die applikant was 'n lid van die sekuriteitsmagte en volgens sy getuienis het hy opgetree teen die lede van 'n algemeen bekende politieke organisasie ter bestryding en in teenstand tot die politieke "struggle" wat teen die Staat en teen die lede van 'n ander algemeen bekende politieke organisasie gevoer is. Hy het geglo dat die oorledenes, nieteenstaande hulle gevangeneming, die stryd by die eerste die beste geleentheid sou voortsit en dat hulle nie uit die stryd en gepaardgaande terreur geweer sal word deur die normale regsproses nie. As gevolg hiervan het hy die misdade gepleeg waarvoor daar regtens nie regverdiging bestaan nie en waarvoor hy hom op amnestie beroep.
Die verhoorhof sowel as die Volbank Appèlhof het bevind dat van die applikant as lid van die polisie vereis was om 'n rol te speel in die politieke stryd wat in die gemeenskap geheers het, en dat hy kon geglo het dat die tweede oorledene moontlik spoedig vrygelaat sou word as gevolg van sy politieke verbintenisse.
Dit is ook 'n feit dat die Polisiemag aangewend was om toe te sien dat die regering van die dag nie omvergewerp word deur die bevrydingsbewegings se aanslag nie en dat die Polisie en Bevrydingsbewegings in direkte gewapende konfrontasie met mekaar te staan gekom het as gevolg van die konflikte van die verlede. Dit was eintlik buite die Polisie se normale funksies. Die dade wat die applikant gepleeg het, was dan ook geassosieer en het voortgevloei uit hierdie addisionele funksie van die polisie om die regering van die dag aan bewind te hou en die politieke opponente van die bevrydingsbewegings te beskerm.
Die wet verskaf sekere hulpmiddels by die beoordeling van die vraag of die daad geassosieer kan word met 'n politieke oormerk.
Die applikant getuig dat sy motief was om die oorledenes om die lewe te bring sodat hulle nie weer hulle dade kan voortsit nie. Hy het geglo dat die normale regsproses nie doeltreffend sou wees nie vanweë waarskynlike vroeë vrylating en selfs die moontlikheid van ontsnapping of ontsetting. Hy wou toesien dat hulle nie hulle dade van verset in die politieke stryd hervat en voortsit nie.
Die dade was gepleeg in die konteks van 'n politieke gebeurtenis na 'n geveg tussen 'n ANC groep en die Polisie waarin 3 polisiemanne dood is en die oorledenes gewond was of minstens in reaksie op daardie geveg.
Die regs en feitlike aard van die daad was die doodslag van die oorledenes. Binne die konteks van die stryd soos dit destyds geheers het, was dit voorsienbaar want beide die Polisie en die ANC het mekaar as teikens oor en weer beskou.
Die dade was gerig teenoor 'n politieke opponent. Die applikant was self 'n Inkatha Vryheidsparty ondersteuner terwyl die tweede oorledene 'n bekende ANC lid was en die eerste oorledene 'n mede-vegter onder die tweede oorledene was.
Die dade was op die tydstip wat hulle gepleeg was en onder die omstandighede waar die oorledenes reeds gewond was, nie uitgevoer op bevel nie. Die vroeëre geveg het egter binne daardie kategorie geval. Die feit is egter dat die applikant sy optrede aan 'n hoër offisier rapporteer het wat hom gelukgewens het. Daar is selfs gepoog om die voorval toe te smeer. Dit dui op latere goedkeuring van sy dade deur sy bevelvoerder.
Die verhouding tussen die dade en die politieke oogmerke moet ook beoordeel word aan die hand van die uitgesproke en uitgeleefde verhouding tussen die bevrydingsbewegings en die Polisie op daardie stadium; die een was vir die ander 'n legitieme teiken in die stryd vir verkryging van politieke seggenskap en die afwering daarvan.
Uit hoofde van die voorafgaande
SLAAG: die applikant se
AANSOEK OM AMNESTIE: .
Die Komitee beveel aan dat verdere ondersoek ingestel word na die identiteit en adresse van die naasbestaandes van die twee oorledenes en dat die gegewens deurgegee word na die Komitee vir Herstel en Rehabilitasie van slagoffers, aansien die Komitee van mening is dat hulle as slagoffers onder die wet klassifiseer behoort te word.
GEDATEER HIERDIE 28ste DAG VAN MEI 1997.
MALL, R
WILSON, R
NGOEPE, R
DE JAGER, SC
KHAMPEPE, S