Truth Commission Special Report
Decision - 59488

Type: AMNESTY DECISIONS
Names: WYBRAND ANDREAS LODEWICUS DU TOIT
Matter: AM 5184/96
Decision: GRANTED
URL: https://sabctrc.saha.org.za/hearing.php?id=59488&t=&tab=hearings
Original File: https://sabctrc.saha.org.za/originals/decisions/2001/ac21206.htm
---------------------------------------------------------------------------------------		
	

DECISION

The Applicant has applied for amnesty in respect of a number   of incidents, some of which were dealt with at hearings.  The remaining incidents   are being dealt with in chambers.  The remaining incidents are the following   and the extracts are quoted from his application:

1.    Manufacturing of Magnetic Containers

1.1   Gedurende 1969, binne die bestek van my eerste diensjaar   by die Veiligheidstak, het ek 'n opdrag vanaf my seksiehoof wyle Adj Offisier   Meyer, (toe 'n Sersant) ontvang om 'n rubber houer, voorsien van vier sterk   magnete te vervaardig.  Ek is voorsien van 'n skets met afmetings en het verneem   dat dit 'n opdrag is van die toenmalige Bevelvoerder van die Eenheid wat daardie   jare beken gestaan het as die Plofstofeenheid, Majoor AFP Verwey (later wyle   Brig Verwey).  Ek het onder groot vertrou verneem dat dit 'n houer is wat met   plofstof gevul sou word en vir 'n offensiewe doel op 'n staalteiken geplaas   sou word.  Alhoewel dit in voorkoms baie anders gelyk het as die nou bekende   Russiese Kleefmyn, kan dit as 'n tuisgemaakte weergawe daarvan vergelyk word.    Ek het slegs die dop vervaardig en het nie 'n finale produk onder die oë gehad   nie en weet ook nie of/waarvoor dit aangewend is nie.  Hierdie ervaring, alhoewel   my rol daarin maar baie klein was, het 'n besondere indruk op my gemaak, net   omrede dit my eerste kennismaking hiermee was en ek besef het dat die Veiligheidstak   inderdaad offensiewe operasies teen die vyand geloods het.

1.2   Ek is by geleentheid, ek skat, tydens die laat sewentigs,   ek kan nie onthou presies wanneer nie en ook nie deur wie nie, getaak om 'n   houer te vervaardig om plofstof op 'n staal teiken vir offensiewe handeling   te plaas.  Ek het 'n houer vervaardig wat so groot was soos 'n minikleefmyn   of soos 'n steen 500gram botter en dit van magnete voorsien.  Die grootte en   formaat was soortgelyk aan die houer wat ek tydens 1969 vervaardig het soos   beskryf in my loopbaangeskiedenis.

Ek dra nie kennis of dit ooit   aangewend is en wat die oogmerk in beide gevalle daarmee sou wees nie.

2.    Adaptation of pocket watches as detonator switches

Ek het by twee of drie geleenthede in my loopbaan tien (ongeveer   1970 tot 1985) of meer horlosies by geleentheid, aangepas of deur lede van my   personeel laat aanpas, om dit as tydskakelaar van 'n elektroniese samestelling   te laat dien.  Dit is gedoen deur 'n gaatjie in die horlosieglas te boor en   'n kontak daarop vas te skroef waaraan 'n elektriese draadjie gesoldeer is.    'n Draadjie is ook aan die romp van die horlosie gesoldeer.  Die skroefie deur   die horlosieglas was so geplaas dat die uur-wyser van die horlosie daarmee kontak   kan maak.  Dit kon dus dien as skakelaar of tydmeganisme.

Die versoeke het gekom van die Plofstof Eenheid en was heeltemal   bona fide.  Amptelike befondsingskanale is aangewend vir die aankoop van die   horlosies en alle ander materiaal wat gebruik is, is op 'n werkskaart gereflekteer   en uit die voorradestoor van Tegnies bekom.  Die aanvraag sou heel waarskynlik   nog skriftelik gewees het, ten einde die uitgawe te kon regverdig binne die   delegasie wat bestaan het.  Ek het later jare tydens my bomopruimingskursus   ook die aanwending in praktyk gesien.  Die horlosies was en word moontlik vandag   nog as handige en goedkoop bewapenings meganisme tydens praktiese opleiding   van bomopruimingsoperateurs in die tegnieke van fop-meganismes aangewend.

Na die beste van my wete het ek nooit van die horlosies   aan enige lid of persoon anders as die aanvraer, nl die Bevelvoerder, bomopruiming,   verskaf nie.  Ek sou dit ook nie kon doen nie want ek kon nie self so 'n versoek   genereer vir eie aanwending binne die voorskrifte nie.  Talle van die horlosies   is dus oor jare Tegnies vir 'n bona fide doel vervaardig.  Dit was nie sinister   of onreëlmatig nie, aangesien ons ook talle ander voorbeelde van fop-meganismes   vir dieselfde eenheid vervaardig het.

Ek is egter by geleentheid (ongeveer 1980) deur Dirk Coetzee,   oud Kaptein en voormalige Bevelvoerder van die Vlakplaas Komponent van die Veiligheids   Hoofkantoor, meegedeel dat hy van die meganismes gebruik het in 'n operasie   wat hy tesame met ander lede in Swaziland uitgevoer het.  Hy het my meegedeel   dat hy twee strukture in afsonderlike ontploffings, beskadig het en dat hy van   die horlosies vir die doel aangewend het.  Ek het nie hierdie inligting wat   ek as baie sensitief beskou het met enige iemand gedeel nie.  As Polisie-beampte   het ek versuim om dit te rapporteer aangesien ek geglo het dat Dirk gesanksioneerd   opgetree het binne die raamwerk van die rewolusionêre stryd.  Ek poog hoegenaamd   nie hiermee om regverdiging te skep vir operasies wat deur ander uitgevoer is   nie en poog ook voorts nie om myself te verontskuldig nie maar wil dit tog stel   dat ek nie enige van die meganismes vervaardig het wetende dat dit offensief   aangewend sou word nie.  Indien dit wel gebeur het, kan ek dit nie onthou nie.

3.    Providing vehicles with hidden compartments

Oor die jare heen is daar talle voertuie van lede van die   Mag en Beriggewers voorsien van versteekte kompartemente om wapentuig mee te   vervoer.  Die doel hiermee sou wees om op 'n bedekte wyse binnelands sowel as   oorgrens wapentuig en ander toerusting soos kameras, dokumentasie, films ens   te kon vervoer.  In die geval van beriggewers was dit gewoonlik ook noodsaaklik   om die voertuie op die normale wyse te laat herregistreer om terugspoorbaarheid   met betrekking tot die beriggewer se identiteit te verhoed.  (Hierdie aksie   kan vergelyk word met die verskaffing van 'n vals identiteit/paspoort).  Hierdie   versoeke was sover ek nou kan onthou, altyd skriftelik en deur hoër gesag gemagtig.    Die uitgawes was ingevolge die normale befondsings kanale en verrekenings prosedures   hanteer.  Daar was dus 'n prysopgawe ten opsigte van die taak voorberei en aan   Hoofkantoor voorgelê vir magtiging.  Die hele proses was dus bona fide en is   in die normale werksverrigting uitgevoer.  Ons, die Tegniese Afdeling het nie   oor intieme kennis met betrekking tot wanaanwending - of voorstelling beskik   nie en derhalwe kon ek hieroor nie veel meer sê nie.  Indien daar afgewyk is   van die aanvanklike motivering, is dit na my mening nie in oorleg met my kantoor   gedoen nie.  Indien daar wel uitsonderings was kan ek dit nie op hierdie stadium   onthou nie.  Die omvang van hierdie tipe take was sodanig dat daar 'n sub-seksie   was wat feitlik voltyds daarmee gemoeid was.  Die inligting word weer eens verskaf   om suiwer perspektief te verskaf aan die werksaamhede van take wat verrig is   deur die Tegniese Afdeling met betrekking tot die steun wat aan bedekte operasies   verleen is.

4.    Theft of UNTAG vehicles

Ek is op 'n dag ongeveer 1990 deur Genl Maj le Roux, toe   moontlik nog 'n Brigadier in Bevel by die Bestuursondersteunings Komponent van   die Afdeling Misdaad Bestryding en Ondersoeke van die SA Polisie, ontbied.    Hy het my gelas om voertuie wat by die TIN hoofbasis (Teen Insurgensie Eenheid   van die SA Polisie) reg langs die Polisie Kollege in Pretoria Wes, geparkeer   was, in ontvangs te neem.  Hy het aan my verduidelik dat daar 'n proses aan   die gang was om die voertuie op SA Polisie sterkte te neem ingevolge Regulasie   80(6) van die Polisie Wet en dat ek die voertuie voorlopig tot verdere kennisgewing   op my sterkte moet hou.

Hoe daar in besit van die voertuie gekom is, is nie aan   my bekend nie.  Ek was ook voorsien van sleutels wat my toegang sou bied tot   behoueringskratte waarin die voertuie geberg was.  Ek het een laat middag of   vroeg aand die twee voertuie gaan afhaal en dit by ons kantore in Rebeccastraat   geparkeer.  Dit was twee Toyota Land Cruiser Stasiewaens en het nog nuut voorgekom.    Ek het vanweë die voorkoms agtergekom dat dit soortgelyk was aan die voertuie   wat deur UNTAG in Namibië gebruik is.  My opdrag was dat ek die voertuie moes   op sterkte neem en sodanig aanpas dat dit nie meer kenmerkend as UNTAG voertuie   sou voorkom nie.  Die uitgawes hieraan was gering, maar is nietemin ingevolge   prosedure hanteer.  Ek het die herregistrasie van die voertuie gedoen en deur   die Hoof, Logistiek die voertuie op my eenheid se sterkte laat plaas.

Ek is nie bewus van die aanvanklike oogmerk of wyse waarop   die voertuie bekom is nie, hetsy deur beslaglegging of anders maar vermoed dat   dit moontlik operasionele buit kon wees wat in belang van die SA Polisie beslag   op gelê is.  Die wyse waarop dit hanteer is het aangedui dat dit nie in enige   iemand se persoonlike belang was nie, maar tot voordeel van die SA Polisie.

5.    Provision of silencers for and adaptation of weapons

Vlakplaas as semi-koverte komponent van die Veiligheidstak   en ook aktief gemoeid met koverte offensiewe optredes het buitengewone behoeftes   gehad met betrekking tot hul uitrusting.  Hulle was baie goed toegerus met die   mees moderne laser afstandmeters, nagsig verkykers, nagsig visiere en skerpskutters   wapentuig.  Gegewe die koverte omgewing waarin hulle soms moes funksioneer,   sou hierdie konvensionele wapentuig nie versoenbaar wees met die beeld wat geprojekteer   is om 'n bepaalde doelwit te bereik nie.

Verskeie van hul wapens is dan ook deur die Tegniese Afdeling   aangepas om dit kleiner, korter en makliker verteekbaar te maak vir koverte   aanwending.  'n Verdere aanpassing was die voorsiening van knaldempers ten einde   dit weer eens meer gebruikersvriendelik ten opsigte van koverte aanwending te   maak.

Hierdie aanpassing bring die hulpverlening nie in konteks   met 'n onwettige handeling gesien nie, daar soortgelyke, maar groter weergawes   deur die Hoof Logistiek aan Vlakplaas verskaf is.  Dit word slegs vermeld om   totale openbaarmaking te bevorder.  Ek het voorts geglo dat ek opgetree het   binne die raamwerk van my werksaamhede.

6.    Provision of poison used to kill dogs

Ek is by geleentheid deur Dirk Coetzee, oud Kaptein en voormalige   Bevelvoerder van die Vlakplaas Komponent van die Veiligheids Hoofkantoor, besoek.    Hy het my meegedeel dat hy waarneming doen op 'n aktivis en dat hy geweldig   las het van honde wat sy of lede van sy groep se teenwoordigheid verraai.  Hy   het gevra of ek nie oor gif beskik waarmee hy die honde kan vergewe nie.  Ek   het aan hom 'n houer met gif verskaf.  Ek kan nie onthou of ek dit dadelik gegee   het of eers op 'n later stadium nie.  Al verklaring wat ek vir die besit daarvan   kan gee, is dat ek dit moontlik vir landboudoeleindes [vergiftiging van ongediertes   of landbouplaagbeheer doeleindes] in my besit gehad het.  Ek was beslis nie   ingelig oor 'n moordplan op die aktivis nie.  Hy het wel, op 'n heelwat later   stadium aan my oorgedra dat hy verantwoordelik was vir 'n moord op 'n aktivis.    Ek het dit nie met enige iemand bespreek nie en ook nie aan hoër gesag gerapporteer   nie.  Voorts het ek nooit van enige iemand anders bevestiging daarvoor ontvang   nie.  In my hoedanigheid as polisiebeampte het ek nagelaat om 'n misdryf waarvan   ek moontlik kennis gedra het, te rapporteer.  Ek het maar aanvaar dat daar binne   die raamwerk van die heersende konflik, deur die Polisie opgetree is, teen 'n   vyandige aktivis wat die gewapende stryd op so 'n mate gesteun het dat daar   geen ander oplossing was waarop die probleem besweer kon word nie.  Ek het nie   kennis gedra wie Mxenge was en watter rol hy gespeel het nie.

7.    Stratkom operation in Western Cape and the bombing   of the First National Bank ATM, Claremont

Gedurende die tydperk van die totale aanslag gemik teen   die samelewing van die RSA, ongeveer die middel tagtigerjare, is verskeie strukture   geskep onder andere om ter voorkoming en stabiliserend te funksioneer.  Ander   weer het gehandel met die dag-tot-dag situasie soos voortgevloei het uit die   gepolariseerde klimaat wat daardie tyd geheers het.  Een van die bene van die   Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad was inderdaad die Tak Strategiese   Kommunikasie waarvan die doel was om 'n spesifieke klimaat te skep, soos voorgeskryf   deur die Sekretariaat.  Die SA Polisie, SA Weermag en Nasionale Intelligensie   was die drie rolspelers in die verband, elk met 'n afgebakende werksterrein.

Die  Tegniese Afdeling is op hierdie terrein suiwer vir   hul kundigheid op 'n spesifieke terrein, nl penetrasie-kundigheid aangewend   en moet hul rol geweeg word teen die oorhoofse rol van klimaatskepping en disinformasie   om 'n bepaalde effek te skep, ter bevordering van 'n regeringsdoelwit.

Alhoewel ek nie betrokke was in beide die beplanning en   uitvoering nie is daar na afloop van die operasie bepaalde mededelings aan my   gemaak aangaande die operasie.  Japie Kok, van my personeel, het aan my gerapporteer   dat hy by twee optredes betrokke was wat deur Brig Griebenhauw, die Afdelings   Bevelvoerder, Wes Kaap gelas was.  Die politieke oogmerk was om 'n klimaat te   skep en was nie teen individue gerig nie.  Die opdrag was dat twee teikens elk   met 'n kleefmyn beskadig sou word, ten einde 'n spesifieke klimaat te skep.    Die teikens sou onderskeidelik 'n Eerste Nasionale Bank OTM wees en die ander   langs 'n Poskantoor, onbekend aan my.  Ek het hierdie as 'n gemagtigde operasie   ge-ag wat daarop gerig was om die Bevrydingsorganisasies by die publiek in onguns   te bring en het dit nie geverifieer nie.

8.    Placing of explosives in a Combi vehicle

Ongeveer 1988, na 'n tydperk van afwesigheid vanaf my kantoor   is ek deur Japie Kok, 'n vertroueling en lid van my Kantoor, meegedeel dat hy   op versoek 'n kombi met 'n afstand beheerde meganisme en 'n lading moes voorberei.    Ek weet nie wie die opdraggewer was, onder watter omstandighede, deur wie en   waar dit aangewend sou word nie.  Ek het hom vergesel na Vlakplaas waar hy die   Volkswagen kombi aan my getoon het.  Ek kan nie onthou hoe groot die lading   was en waar dit geplaas was nie.  Ek het geglo dat dit teen 'n lid of lede van   die bevrydingsorganisasies, wat in militêre hoedanigheid teen die RSA regering   en sy mense gestaan het, gerig was.  Soos in die oorgrote meerderheid van sulke   situasies was die regverdigingsgronde nie deur die Tegniese Afdeling bepaal   of bevraagteken nie, aangesien daar te goedere trou aanvaar is dat dit 'n goedgekeurde   bona fide operasie van die Veiligheidstak was.  Gegewe die geheimhouding, kompartementering   en gekompartementeerde werkswyse, is dit ook nie geverifieer of gerapporteer   nie.  Of dit ooit aangewend is en indien wel, waar dit aangewend is, is nie   aan my bekend nie.

9.    Manufacturing and adaptation of Limpet mines, mini   limpet mines, grenades and ammunition (in so far as not dealt with at hearings).

Volgens berekening moes dit ongeveer in 1985 gewees het   wat ek getaak was om 'n kleefmynontsteker vir 'n SPM-kleefmyn sodanig aan te   pas dat dit onmiddellik sou detoneer ten einde die operateur wat dit sou stel,   in die gepaardgaande ontploffing te dood.  Kleefmynontploffings was in daardie   dae baie aktueel en 'n wesenlike probleem.  Multi miljoene rande se skade is   aangerig en baie lewens ge-eis.  Ek kan vanweë die tydsverloop nie die spesifieke   opdraggewer, waarskynlik 'n Senior Offisier van Veiligheidhoofkantoor, onthou   nie maar het geen beswaar gehad ten opsigte van die regverdigings gronde nie,   aangesien die skade aan eiendom en lewens reeds makro-omvang gehad het.  Daar   het 'n gees van magteloosheid geheers, aangesien daar nie 'n oplossing vir die   probleem gevind kon word nie.  Kleefmynontploffings het 'n geweldige intimiderende   effek op die bevolking gehad en drastiese teenmaatreëls moes getref word.  Deur   die operateur homself te laat elimineer het geblyk die enigste uitweg te wees.

Hierdie aanpassing en gevolglike resultate het absolute   wantroue in die kleefmyne gestel en ook vir 'n demoraliserende effek gesorg.    Volgens ingeligtes het dit ook 'n afname in die aanwending ten gevolg gehad.

Dit dien gemeld te word dat kleefmyne en ontstekers dikwels   afsonderlik vervoer is deur die onderskeie operateurs en is daar in elk geval   soms slegs beheer gekry oor die ontstekers.  Indien andersom is die myne dikwels   "leeg gemaak" met ander woorde die springstof is of geheel of gedeeltelik   verwyder, na gelang van die behoefte van die geval.  Waar enigsins moontlik   is die myne altyd totaal gede-aktiveer.  Dit was skynbaar nie altyd moontlik   nie.  Ek sou my nie verder oor die meriete, keuse of opsies wou uitlaat nie,   aangesien die regverdigingsgronde van elke geval na meriete hanteer is deur   die onderskeie funksionarisse en nie gesetel was by die Tegniese Afdeling nie.    Aanpassings is suiwer teen die breë agtergrond soos vermeld, in aanhangsel I,   uitgevoer.

Ingevolge dieselfde gronde is aanpassings aan mini-kleefmynontstekers   en handgranaat-ontstekers gedoen.  Die kennisname van defekte Russiese handgranaatontstekers   het ons genoop om dit na te vors [sien bladsy 14 & 15].  Ook met hierdie   aangepasde granaatontsterkers is op dieselfde wyse en ingevolge dieselfde motivering   gehandel, nl die demoralisering van die opgeleide Guerille-vegters teen die   RSA regering te bewerkstellig deur wantroue in hul eie toerusting te skep.    Ek kan nie onthou wie die opdraggewers was of wie hierdie stukke oor 'n verloop   van jare van ons ontvang het nie.  Die aanvanklike opdraggewer sou uiteraard   'n Senior Offisier van die Veiligheidstak, Hoofkantoor wees.  Wat moontlik of   Brig Schoon of Kol Frans van Eeden of Brig Paul Hatting kon wees.  My herinnering   hieromtrent is uiters vaag.  Opvolg versoeke is vanaf sekere van die onderskeie   Bomopruimersbevelvoerders asook direk vanaf Streke ontvang-Spesifieke identiteite   onbekend.

The Committee having considered   the above is satisfied that all the above incidents relate to acts associated   with a political objective committed within the context of the conflict of the   past and that the applicant has made a full disclosure of all relevant facts.

The applicant is accordingly GRANTED   amnesty for any act or omission constituting an offence as disclosed in the   above extracts.

SIGNED AT CAPE TOWN ON THIS THE       DAY OF       2001.

??

2

/...

/...

