SABC News | Sport | TV | Radio | Education | TV Licenses | Contact Us
 

Decisions

Type AMNESTY DECISIONS

Starting Date 06 December 1996

Names ADRIAAN VAN STRAATEN,WILLEM VAN STRAATEN,GIDEON VAN STRAATEN,DAWID VAN STRAATEN

Case Number AC/96/0015

Matter AM 58/96,AM 59/96,AM 61/96,AM 62/96

Decision REFUSED

DECISION

Die vier applikante is broers, saam aangekla en skuldig bevind van:

1. Die moord op Wanton Matshoba op 17/18 Junie 1989 te Vereeniging;

2. Die moord op Sazise Cyprion Qheliso op dieselfde plek en tyd as die eerste aanklag;

3. Die roof op dieselfde plek en tyd van 'n swaardiens Ford, perd en sleepwa registrasie nr. QIW 18689.

Die twee oorledenes was nagwagte in diens van Thompson Securities wat belas was met die bewaking van die persele van Terblanche Transport en die voertuig was in die persele parkeer.

Die applikante se getuienis kan as volg opgesom word:

Adriaan en sy broer Dawid, net nadat die kroeë geopen het, het begin drink by die Nation Station kroeg tot na middagete. Hulle het teen die aand teruggekeer en weer begin drink tot ongeveer 23h30 toe die kroeg gesluit het. Hierdie keer het hulle ander broer, Andre hulle vergesel en meegedoen aan die drinkery. Die hotelbestuurder was van mening dat hulle nie hul motor behoort te bestuur toe hulle die hotel verlaat het nie omdat hulle te sterk onder die invloed van drank was.

Gedurende die drinkery het Adriaan met 'n plan voor die dag gekom dat hulle 'n voertuig wat deur swart nagwagte bewaak word, moes verwyder. Daardeur sou hulle aan die publiek toon dat swartes nie in staat is om behoorlik wag te hou nie. Dit sou tot gevolg hê dat blankes in die posisies aangestel word. Hierdeur sou werklose blankes 'n kans staan om werk te bekom. Dit was dan ook die politieke oogmerk wat hulle in gedagte gehad het. Hulle bedoeling was nie om die wagte te vermoor nie. Hulle sou hulle net vasgryp en dan met toue vasmaak. Hulle bedoeling was ook nie om die voertuig te steel nie. Hulle sou dit slegs neem en 'n kort afstand buite die perseel weer parkeer sodat die eienaars kon sien die nagwagte is oneffektief.

Nadat hulle die hotel verlaat het, het hulle rondgery en toe die perseel van Terblanche Transport identifiseer as 'n geskikte teiken. Hulle het die motor 'n endjie weg parkeer en is die perseel binne. Adriaan het 'n nagwag met 'n flits geslaan en Willem het 'n voertuig identifiseer vir verwydering.

Daarna het hulle gesoek na toue om die nagwagte vas te maak, en in die proses het hulle 'n beitel gevind en toe die nagwagte wat intussen deur die ander broers bewaak was, hulle begin teësit is hulle in die daaropvolgende stoeiery met die beitel gesteek en met 'n 4,5kg betonblok teen die kop geslaan. Albei is as gevolg van die proses dood; Cypion in die hospitaal kort daarna en Wanton is op die perseel oorlede. Wanton se dood was veroorsaak deur 'n steekwond in die nek, daar was talle steekwonde en hy het ook 'n skedelfraktuur gehad met bloeding op die brein. Cyprion het ook skedelbreuk en interne skedelbloeding gehad, ernstige kneuswonde aan sy gesig en beide sy bo-arms was gebreek. Daar was geen teken dat hulle vasgebind was nie.

Nieteenstaande hulle besef dinge het verkeerd geloop, het hulle tog die voertuig van die perseel verwyder. Willem het egter gesukkel om die voertuig te bestuur want hy het nie geweet hoe die koppelry meganisme werk nie. Getuienis is gelewer dat verkeerde gebruik van die meganismes veroorsaak dat die remme in werking gestel word en dat die voertuig nie ver sou beweeg nie. Die voertuig is inderdaad gevind met vasgeslaande remme en aansienlike skade omdat gepoog is om die voertuig in hierdie geremde toestand verder te bestuur. Die sleepwa het 'n vrag staal ter waarde van ongeveer R65 000,00 gehad.

Dit blyk verder dat Willem vorige veroordelings gehad vir oneerlikheidsmisdade sowel as dronkbestuur. Hy het pas uit die gevangenis gekom op die 9 Junie 1989 en 8 dae later was hy betrokke in hierdie misdaad.

Adriaan het 'n vorige veroordeling vir diefstal van 'n motorfiets in 1978 en bestuur onder die invloed van alkoholiese drank in 1985.

Dawid het ook 'n vorige veroordeling vir diefstal maar voer aan dat hy die skuld op hom geneem om sy oudste broer te beskerm. Ook Gideon het 'n vorige veroordeling van diefstal van 'n minder ernstige aard.

Die applikante voer aan dat hulle nie lede van die AWB was nie, dog wel soms vergaderings van die organisasie bygewoon het. Hulle kan as ondersteuners bestempel word. Hulle het nie 'n opdrag van enige bekende organisasie gehandel nie dog 'n sekere Coetzee wat intussen oorlede is en 'n lid van die AWB was, sou aan Adriaan suggereer het dat hy 'n sel moes stig en amok saai om die regering te ontwrig. As hy 'n politiek geïnspireerde geweldsdaad kon pleeg, sou dit hom aansien in antiregeringsgeledere verwerf.

Daar dien opgelet te word dat aangevoer word dat die bedoeling was om die nagwagte vas te bind, tog word geen toue saamgeneem nie om die wagte vas te bind nie. Daar word ter verduideliking aangevoer dat hulle geweet het by hierdie vervoerbesigheid sou toue wees. Dit is egter duidelik dat dit die derde perseel was wat hulle as moontlike teiken gekies het en dit lyk waarskynlik dat die vasbind storie uitgedink is ter versagting van die gebeure.

Die feit is dat daar volgens hulle getuienis voldoende geleentheid vir die vasbind van die oorledenes was wat reeds vasgegryp was sonder vuurwapens was en geen gebruik van hulle knuppels kon maak nie. Daar sou geen rede wees om af te wyk van die plan om hulle vas te maak as so 'n plan ooit bestaan het nie.

Hoe dit ookal sy, die applikant slaag om die voertuig te verwyder en dus ook in hul doel om aan te toon die nagwagte kon nie die perseel effektief bewaak nie. Mens sou dan verwag dat daar minstens 'n poging sou wees om hierdie politieke boodskap wêreldkundig te maak. Die gebeurtenis toon dat daar nooit so 'n beplanning was nie.

Daar is heelwat tyd bestee en argumente aangevoer wat verband hou met die applikante se agtergrond, hulle rasse-meerderwaardigheidsgevoel en hulle anti-hervormsgedagtes. Dit voer die saak egter nie verder nie.

Op al die getuienis en op die waarskynlikhede soos blyk uit die feite wat nie in dispuut is nie, kan die komitee nie tot die gevolgtrekking kom dat hierdie moorde en die verwydering van die voertuig, dade was wat geassosieer was met 'n politieke doelwit en nie bloot kriminele dade was nie. Die aansoeke en die voorgelegde getuienis bevredig nie die kriteria in Artikel 20 op die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening nie. Adv. E. Niewoudt wat namens die applikante verskyn het, het op bekwame en vindingryke wyse in haar argumentshoofde die komitee probeer oortuig dat hierdie aansoeke binne die kader van die Wet val.

In haar argumente het sy agteroorgeleun om aan die feite 'n politieke konnotasie eerder as 'n bloot kriminele konnotasie te gee. Hierdie argumente oortuig egter nie teen die objektiewe vasstaande feite en getuienis by die strafverhoor nie.

Die aansoek om amnestie word ten aansien van alvier applikante

GEWEIER: .

Regter H. Mall

Regter A. Wilson

Regter B. Ngoepe

Adv. C. de Jager SC

Me Sisi Khampepe

 
SABC Logo
Broadcasting for Total Citizen Empowerment
DMMA Logo
SABC © 2024
>